Terwyl ek werklik oortuig is van die waarheid oor die karakter van God soos geopenbaar en geleer deur jou bediening, vind ek dit moeilik om met ander oor hierdie onderwerp te gesels wanneer ek in die “toorn van God”-hoek geverf word, wat blykbaar soveel skriftuurlike ondersteuning het.
Kan jy my help om te verstaan hoe om hierdie tekste en hierdie frase toe te pas, in die lig van ons begrip van sy ware karakter?
Dankie en mag God voortgaan om jou en die Come & Reason “familie” te seën. Julle het my almal geseën deur julle bydraes tot die Kwartaallikse studie-uur opnames.
EH
Die volgende is ‘n uittreksel uit my volgende boek getiteld The God-Shaped Brain – How Your View of God Changes Your Brain, wat ek hoop in die nabye toekoms beskikbaar sal wees:
Waarom het God vir Adam gesê, “op die dag as jy hierdie vrug eet, sal jy sterwe?” Omdat Hy gedwing sou word om dood te maak? Of omdat die mensdom sou afwyk van die wet van liefde, die wet van die lewe, en sonder ingryping sou die enigste gevolg ondergang en dood wees? En sodra ons eerste ouers hulself met hierdie terminale toestand besmet het, wat was nodig? ‘n Oplossing en ‘n genesing! Daardie genesing is as ‘n baba in Betlehem gebore.
Liefde loop die gevaar om verkeerd verstaan te word sodat dit tot redding kan wees
Terwyl ek hierdie idees orals aangebied het, het ek individue ontmoet wat nie van hierdie siening hou nie. Hulle sukkel met hierdie waarheid as gevolg van stellings in die Bybel waarin God blykbaar sê, “Ek is woedend. Ek is kwaad. En in my toorn gaan ek doodmaak!”
Die oppermagtige Here sê: Rampe wag verseker vir Jerusalem, die stad vol moordenaars! Ek sal self hout op die vuur onder haar pak. Ja, pak die vuur aan! Laat die vuur dreun tot die water kook. Kook die vleis goed, met baie speserye. Verbrand dan die bene. Sit die leë pot op die kole en maak dit rooiwarm sodat die vuilheid en roes kan afbrand. … Die vuilheid is jou afskuwelike dade. Ek het jou probeer skoonmaak, maar jy het geweier. Daarom sal jy vuil bly tot my wraak teen jou afgekoel is. Ek, die Here, het so gesê! Die tyd het gekom en niks kan dit terughou nie. Ek verander nie van gedagte nie. Ek sal jou nie weer jammer kry nie. Jy sal geoordeel word op grond van jou afskuwelike dade, sê die oppermagtige Here (Esegiël 24: 9-14 NLV’11).
Met die eerste oogopslag klink hierdie teks skrikwekkend. Ek onthou hoe ek met gedeeltes soos hierdie gesukkel het, altyd bang dat God wag om my te betrap – en my goed te slaan – as ek ‘n glips gemaak het. Maar ek het besef dat my misverstande oor God slegs ontstaan het omdat ek nooit die regte vrae gevra het toe ek hierdie moeilike tekste gelees het nie. Die vraag is nie of God hierdie woorde deur sy profeet gespreek het nie, want ek is vol vertroue dat Hy dit gedoen het. Die belangrike vraag is: Wat het eintlik gebeur nadat Hy hierdie woorde gespreek het?
Het God sy krag gebruik om diegene te vernietig oor wie Hy sulke skrikwekkende woorde gespreek het? Of het hulle rebellie hulle van sy beskerming geskei en sodoende tot hulle vernietiging gelei?
Die kinders van Israel het geweier om God, sy metodes en beginsels te volg. Maar God het hulle nie seergemaak nie. In plaas daarvan, het Hy hulle gelos om te gaan! Hy het vir hulle gegee wat hulle gekies het – ‘n lewe wat van Hom geskei is. Hy het opgehou om namens hulle in te tree. Hy het sy beskermende hand op hulle aandrang verwyder, en kort voor lank het die Babiloniërs gekom wat in ware Babiloniese styl hulle stad vernietig het. Dit was die Babiloniërs, nie God nie, wat die vernietigende vuishou toegedien het.
Hierdie “laat gaan” deur God, hierdie vrystelling om die gevolge van ons eie aanhoudende, opstandige keuses te pluk, is wat die Bybel “God se toorn” noem. Paulus vertel vir ons dat die “toorn” van God ontstaan as gevolg van aanhoudende verwerping van God, die verwerping van die kennis van Hom en die voorkeur van ons eie manier bo God s’n. Dan sê Paulus drie keer dat die weerbarstiges in die eerste eeu na Christus God se toorn ervaar het toe God hulle “prysgegee het” om die gevolge van hulle eie keuses te pluk (Romeine 1:18-32).
Jesus, wat vir ons sonde geword het, het God se “toorn” namens ons aan die kruis ervaar en uitgeroep, “My God, my God, waarom het U My verlaat?” nie “waarom maak U my dood” nie (Matthéüs 27:46). Dwarsdeur die Bybel is die storie dieselfde.
In Deuteronomium dreig God met sy toorn: “Want my woede is aangesteek soos ’n vuur, en dit brand tot in die dieptes van die graf. Dit verteer die aarde en sy opbrengs, die fondamente van die berge steek dit aan die brand. Ek sal rampe op hulle ophoop en hulle met my pyle afskiet” (Deuteronomium 32:22, 23). Maar God sê die wyses sal verstaan wat sy toorn werklik is: “Was hulle maar wys, sou hulle verstaan en sien wat hulle lot sal wees! Hoe kan een mens duisend van hulle jaag, en hoe kan twee mense tienduisend laat vlug, as hulle Rots hulle nie verkoop het, en die Here hulle nie oorgelewer het nie?” (Deuteronomium 32:29, 30, NLV’11).
Liefde kan nie afgedwing word nie
Die wyse man verstaan dat liefde nie afgedwing kan word nie, net vryelik gegee kan word. Die oordeelkundige vrou besef die woedendste, wraaksugtigste daad wat liefde kan neem, is om die voorwerp van sy liefde te laat gaan. Weereens maak God dit duidelik dat sy woede of toorn is om te laat gaan. “Dan sal my woede teen hulle ontbrand. Ek sal hulle verlaat, my gesig vir hulle wegsteek sodat hulle agteruitgaan. In daardie tyd sal ellende en rampe hulle tref sodat hulle sal sê: ‘Hierdie swaarkry het oor ons gekom omdat God nie meer by ons is nie!’” [1] (Deuteronomium 31:17 NLV’11).
Maar waarom sou God in sulke dreigende taal deur Esegiël praat as Hy nie werklik die stad verbrand het nie? Wanneer ons kinders in gevaar is, wanneer hulle nie wil luister nie, verhef ons, as liefdevolle ouers, ons stem om te waarsku en te beskerm? “Israel is so hardnekkig soos ’n koppige koei. Moet die Here hulle dan onbeskermd laat wei soos ’n lam in die veld?” [2] (Hosea 4:16 NLV’11). God het dit gehaat dat hulle harte so hard was dat dit vir Hom nodig was om sulke harde woorde te spreek, maar die God van Liefde waag alles om sy kinders te red.