Wanneer jy die woord “wet” in ‘n woordeboek opsoek, sal jy tipies meer as 20 verskillende definisies vind, maar hulle verdeel wel in twee hoofkategorieë: 1) opgemaakte reëls wat handhawing vereis (bv. belastingwette), en 2) beginsels of protokolle waarop die werklikheid gebou is om te werk (bv. wette van fisika).
God as Skepper het ruimte, tyd, materie, energie en lewe gebou. Sy wette is die konstantes – die protokolle, die beginsels – waarop die heelal en die lewe gebou is om te werk. Dit kan nie verander word nie en die lewe, soos ons dit ken, bestaan steeds. Jesus het toe gesê:
Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie (Matthéüs 5:18 AFR’33).
In haar boek, Finding Truth, beskryf Nancy Pearcey hierdie werklikheid:
Die oorsprong van die heelal het aanleiding gegee tot ‘n legkaart wat bekend staan as die noukeurige instellingsprobleem. Die fundamentele fisiese konstantes van die heelal is pragtig gebalanseerd, asof dit op ‘n mespunt is, om lewe te onderhou. Dinge soos swaartekrag, die sterk kernkrag, die swak kernkrag, die elektromagnetiese krag, die verhouding van die massa van die proton en die elektron, en baie ander faktore het net die regte waarde wat nodig is om lewe moontlik te maak. As enige van hierdie kritieke getalle selfs effens verander word, kon die heelal geen vorm van lewe onderhou nie. Byvoorbeeld, as die sterkte van swaartekrag kleiner of groter was as sy huidige waarde met slegs een deel uit 10 60 (1 gevolg deur 60 nulle), sou die heelal onbewoonbaar wees.[1]
Mense het nie en kan nie die werklikheid skep soos God nie; in plaas daarvan, wanneer ons reëls opstel, moet ons daardie reëls ekstern afdwing, meestal deur die oplegging van straf. Ongelukkig, nadat Konstantyn “bekeer is”, is die idee dat God se wet op dieselfde manier funksioneer as menslike wette aanvaar; die idee dat God se wet opgelê word (keiserlik) het die Christendom begin besmet – en die reddende waarhede wat Jesus gebring het, het verdorwe geraak. Die boodskap van God vir vandag is dat die uur in die menslike geskiedenis aangebreek het vir mense om ‘n regte oordeel te maak oor wie God is; ons moet “Hom aanbid wat die hemel en die aarde, die see en die waterfonteine gemaak het” (Openbaring 14:7 NIV 84). Dit is Skepperaanbidding.
Wat is God se ontwerpwette?
Ek het al baie versoeke gehad vir ‘n lys van die verskillende ontwerpwette van God. Hieronder vind u ‘n samestelling van baie van hierdie wette. Dit is nie ‘n volledige lys nie; God is oneindig, en daar is sekerlik baie meer ontwerpwette wat ek nog nie begryp nie of miskien nog nie eens deur mense ontdek is nie.
Om ‘n wet ‘n ontwerpwet te laat wees, moet dit ‘n beginsel of protokol wees waarop die werklikheid werk. As sodanig sal dit toetsbaar wees – met reproduseerbare, konsekwente, konstante en voorspelbare resultate. Met ander woorde, dit verander nie. Die enigste veranderlikes sou wees in die skade wat volg in verhouding met verskillende grade van oortreding van so ‘n wet. Spring byvoorbeeld van ‘n 150m hoë gebou af en jy sterf; trap van ‘n 13cm randsteen af en jy verstuit ‘n enkel – die swaartekragwet verander nie, maar die mate van die oortreding veroorsaak ‘n ander mate van besering (let daarop dat hierdie wette ‘n natuurlike gevolg het; dit vereis nie ‘n eksterne agent om iemand te straf wat hierdie wette oortree nie).
Dus, God se wet in kort opsomming:
- Die wet van liefde: die beginsel van gee waarop die lewe gebou is om te werk; voorbeelde:
- Ons gee koolsuurgas aan die plante, en hulle gee suurstof aan ons
- Die watersiklus (oseane > wolke > reën > riviere > oseane)
- Plante gee nektar aan bye en tydens hulle bedrywighede om nektar te soek is die bye besig om die plante te bestuif.
- Die wet van vryheid: Liefde bestaan slegs in die atmosfeer van vryheid. Skend vryhede in verhoudings en drie voorspelbare en skadelike gevolge sal voorkom:
- Liefde word beskadig en uiteindelik vernietig
- Rebellie (begeerte om weg te breek en vry te wees) word aangehits
- Individualiteit van die een wat oorheers word, sal afgetakel en uiteindelik vernietig word as die oortredings nie eindig nie
- Die wet van aanbidding: Ons word neurobiologies en karakterologies verander om te word soos dit of wie ons bewonder, aanbid en tyd spandeer om te kyk en verwerk.
- Die wet van inspanning: Krag kom van oefening – “gebruik dit of verloor dit” – nie net fisies nie, maar ook neurologies.
- Die wette van fisika: swaartekrag, wrywing, beweging, kernkragte, ens.
- Die wette van wiskunde: soos wisselbare wette, a + b = b + a, ens.
- Die wette van gesondheid: die fisiese wette waarop lewe en gesondheid werk, insluitend voeding, oefening, slaap, hidrasie, asemhaling, ens.
- Die wet van herstel: Nadat ‘n hulpbron verbruik is, moet ‘n mens rus en herstel voordat jy in staat gestel word om meer te verbruik. Byvoorbeeld, ‘n bofbalgooier moet rus en herstel voordat hy weer kan gooi, sodat hy nie permanente skade aan sy arm veroorsaak nie.
- Die wet van saai en maai: Ons maai wat ons saai – nie net in die land nie, maar in die lewe. ‘n Mens kan nie druiwe kry deur hawer te saai nie, en ons kan nie kritiese redenasievaardighede kry deur ander toe te laat om vir ons te dink nie. Byvoorbeeld, om bloot die korrekte antwoorde van ‘n handboek of onderwyser te kry, eerder as om self daardie antwoorde uit te vind, leer ons niks nie. Dit is waarom die Bybel sê dat die volwasse persone diegene is wat hul vermoëns deur inspanning geleer het om reg van verkeerd te kan onderskei (Hebreërs 5:14).
- Die wet van liefde wat vrees oorkom: Opregte liefde oorkom ons vrees vir self en stel ons in staat om self vir ander op te offer. Neurobiologies, wanneer ons liefdeskring brand, kalmeer dit ons vreeskring. Byvoorbeeld, ‘n moeder wat haar kind in gevaar sien, stel haarself in gevaar om die kind te red, maar sy sal haarself nie net sommer op ingewing in sulke gevaar stel nie.
- Die wet van vrees wat liefde beskadig en selfsug aanhits: Wanneer ons vrees kringloop aktief is en ons ons daarmee identifiseer en op die vrees fokus, verloor ons besorgdheid oor ander, dink aan self en verwaarloos of benadeel ander om self te beskerm of te red. Dink daaraan om in ‘n rolprentteater te wees tydens ‘n massaskietery: As ons niemand anders ken nie, dryf die vrees besorgdheid oor self en die meeste mense probeer net om die gevaar te ontsnap, miskien selfs om ander uit die pad te stoot om uit te kom. Maar as jy by ‘n geliefde is, vlug jy nie net nie; jy probeer om jou geliefde te red, miskien selfs om jouself tussen die skieter en die een vir wie jy lief is, te plaas.
- Die wet van vergifnis versus wrok: Wanneer ons veronreg word, kan ons óf vergewe óf nie. Wanneer ons vergewe, bevry ons onsself van bitterheid en gegriefdheid en ervaar ons genesing van ons hart en verstand, maar om ‘n grief te behou, benadeel ons altyd. Ons kan nie emosionele en geestelike welstand ervaar terwyl ons bitterheid koester nie.
- Die wet van waarheid: Jy kan nooit die waarheid vermy nie; jy kan net die dag uitstel wat jy daarmee te doen kry.
- Wanneer waarheid aangegryp en aanvaar word, verplaas dit leuens en bevry ‘n persoon van vrees en misverstand, wat die individu verhef en veredel. Waarhede bou saam tot oortuigings, idees en perspektiewe wat ons begrip van die werklikheid vorm, wat ons teruglei na vertroue in ons Skepper God. In vertroue maak ons ons harte oop en ervaar ons die inwonende Gees van God wat ons transformeer en veredel om wesens van liefde te wees eerder as wesens van selfsug. Alle waarheid kom van God af en, as dit gevolg word, sal dit na God teruglei.
- Wanneer die waarheid verwerp word, word ons begrip verward, ons verstand beskadig, ons hart verhard en word ons stadig minder in staat om die werklikheid te verstaan – die waarheid van God se koninkryk en die wêreld om ons. Sulke individue sal eendag die waarheid in die gesig staar, maar dit sal vir hulle pynlik en vernietigend wees omdat hulle steeds die waarheid haat en daarvan wil wegvlug, en selfs smeek vir die berge en rotse om hulle van die werklikheid weg te steek (Lukas 23:30).
- Die wet van openbaring: Mense openbaar of bring na vore en deel wat hulle werklik glo en waardeer. Diegene wat God se beginsels waardeer, preek dit nie net nie, maar leef dit uit. Omgekeerd, diegene wat die metodes van hierdie sondige wêreld liefhet, leef dit uit. Daarom het Jesus gesê, “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn” (Matthéüs 12: 34, 35 NLV’11).
- Die wet van geluk: Geluk is die neweproduk van gesondheid in alle domeine – fisies, geestelik, emosioneel, verhoudingsgewys en psigies. ‘n Mens ervaar slegs geluk wanneer jy in ooreenstemming is met God se ontwerpwette waarop hierdie aspekte gebou is. Verbreek die wette van gesondheid en siekte, ongesteldheid en lyding kom voor – en ondermyn sodoende geluk. Baie mense verstaan dit nie en in plaas daarvan om gesondheid na te streef, soek hulle na plesier, wat dikwels die wette van gesondheid oortree (bv. dwelms, alkohol, losbandige seks, dobbel, ens.)
- Die wet van gebrokenheid: Sodra daar gebrokenheid (besering) van enige aard is, is daar geen pynvrye opsies nie. Doen niks en ‘n mens bly in pyn en ingekorte funksie. Maar genesing en herstel van gebrokenheid is pynlik. Ongelukkig besef baie mense dit nie as dit by emosionele wonde kom nie, en eerder as om die pyn in die gesig te staar en die besering te behandel, spandeer hulle hul hele lewe om pynverligting te soek, eerder as om die besering te behandel dat dit kan genees. Maar sodoende word hulle nooit gesond nie en word hulle net erger, want sodra daar gebrokenheid is, is daar geen pynvrye opsies nie. Die eerste stap na genesing is om hierdie waarheid aan te gryp en op te hou vra: “Wat maak die minste seer?” en begin vra, “Wat is die beste aksie om te neem om te genees, selfs al is dit seer?”
- Die wet van sonde en dood: Dit staan ook bekend as oorlewing van die sterkste, die beginsel van vreesgedrewe selfsug wat die wêreld besmet. Dit is Satan se wet – die sterkes oorheers en buit die swakkes uit. Dit is die skending van die wet van liefde en vryheid, en dit het ook voorspelbare resultate: pyn, lyding en uiteindelik die dood.
God is ons liefdevolle Skepper wat die hele werklikheid gebou het om in harmonie met Sy karakter van liefde te funksioneer. Sy wette is ontwerpwette, protokolle waarop lewe en gesondheid gebou is om te werk. Dit is God se plan om Sy wette in ons harte en gedagtes te plaas (Hebreërs 8:10), om Sy plan vir die lewe in ons te herstel sodat ons in harmonie met Hom leef in volmaakte liefde en gesondheid. Ek nooi jou uit om “Hom te aanbid wat die hemele, die aarde, die see en die waterfonteine gemaak het,” om die diktator, keiserlike sienings van God te verwerp, om ons Skepper se ontwerpwette aan te gryp, en deur aanskoue van Hom, in hart en verstand verander word om soos Hy te wees. Want “ons weet dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, want ons sal Hom sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2 NIV 84).
[1] Pearcey, N., Finding Truth, David C. Cook Publishing, Ontario, Canada, 2015, p 25.